top of page

10. Saamstaan Verhoudings

  • 2 days ago
  • 2 min read

Efesiërs 6:10-24

Hierdie is een van daai tekste wat mens nogal in verskillende kontekste sien - mooi boekmerkies en Sondagskool lessies ens.  En ons lees dit baie individualisties.  Iets wat ons net vir onsself van toepassing wil maak dat dit iets is wat ek “aantrek” om my dag beter te maak, of veilig te voel, my gewete te sus.


Maar as ons sien met wie Paulus hier (nog steeds) praat, wie dit is wat die wapenrusting moet aantrek en aan wie hierdie wapenrusting behoort, dan sien ons dat hierdie weereens bedoel is vir ONS, God se Kerk, sy Liggaam – ons SAAM.


Kyk mooi - in hierdie laaste 10 verse van die brief kry ons 'n hele klomp verwysings na konsepte wat Paulus reeds in die res van die brief aangespreek het.  Hierdie teks staan dus nie in isolasie, net 'n mooi lessie oor die wapenrusting nie, maar moet saam met die res van die brief gelees word.  Paulus praat die hele tyd met die Kerk, kollektief, ons SAAM, in verhouding met mekaar as Liggaam van Christus.  En dit is nog steeds waarmee hy besig is in hierdie teks.


In vers 10 sê Paulus weer dat ons krag van God kom en dat ons in Hom ons sterkte moet vind.  God se krag wat sy Kerk vul kom reg deur die brief voor, en moet ons onthou watter geweldige krag Paulus bedoel (vgl. 1:19-20; 3:16-17).


Wanneer Paulus praat van “staande bly”/”weerstand bied” (wat 'n paar keer herhaal) dan bedoel hy nie net 'n passiewe verdediging nie – dat ons maar net die houe moet vat nie.  Hy wil hê ons moet sien dat wanneer ons as Kerk saamstaan, saam as Liggaam die wapenrusting aantrek, ons eenheid juis nie net verdediging beteken nie.  Maar eerder terugveg, aanval, oorwinning.  Daarom dat die duiwel so bang is vir eenheid in die Kerk.


Paulus praat van die “Wapenrusting van God”, nie die “Wapenrusting van die gelowige” nie.  Dis 'n belangrike onderskeid om te maak.  Dit is God se wapenrusting!  En dit is vir SY LIGGAAM waarvan Hy die Hoof is, wat Hy sy Eie wapenrusting aantrek om dit te beskerm. Lees hoe praat Jesaja oor God se wapenrusting en hoe mooi dit ooreenstem met wat ons hier in Efesiërs lees – Jesaja 59:16-17; 11:5; 49:2; 52:7.


Wanneer ons dan die verskillende dele van die wapenrusting in vers 14-17 lees, en in gedagte hou dat dit God se wapenrusting is, dan verstaan ons dit bietjie beter.  Dat dit alles goed is wat ons van God af ontvang, dit is syne, dit kom van Hom af.  Hy gee die gereedskap, die wapens waarmee Hy self die duisternis oorwin het, vir sy Liggaam sodat ons daarmee ook die oorwinning kan behaal. 


En natuurlik moet ons nie van die laaste deel van die wapenrusting vergeet nie – gebed! En let mooi op waarvoor Paulus sê dat ons moet bid.  Dit gaan alles oor die Liggaam, vir mekaar, vir die Koninkryk, vir die verkondiging van die Blye Boodskap.

 
 
bottom of page