4. Herstelde Verhouding
- 2 days ago
- 3 min read
Efesiërs 2:1-22
As ons hoofstuk 2 beskou binne die groter struktuur van hoofstuk 1-3 dan verstaan ons so bietjie beter waarmee Paulus hier besig is. Hy het reeds in die lofprysing van 1:3-14 vir ons gewys wie die aktiewe Subjek is wat hier handel – God IS ons seën! Hy sorg vir ALLES: begin en einde, beplanning, uitvoering en afhandeling, Hy dra dit alles. Daarom moet ons sy grootheid prys!
In die gebed van 1:15-23 sien ons hoe daardie plan ook in ons lewens, in sy Kerk, aan die werk is. Die hoop van sy roeping, die rykdom van sy erfenis, die grootheid van sy opstandingskrag. Hy bring lewe uit die dood vir, in en deur sy Kerk. Hy is die hoof oor als, die Koning wat regeer en Hy roep sy Kerk om dit vir die wêreld te gaan wys.
In Hoofstuk 2 kom ons dan by Paulus se uitleg van die betekenis van die openbaring en wat dit tot gevolg gehad het. God se verlossingsplan wat uitgevoer word. Hy vertel dieselfde verhaal twee keer oor vanuit verskillende oogpunte. Eers in vers 1-10 vertel hy hoe God ons wat dood was weer lewend gemaak het, deur genade. En in vers 11-22 hoe God ons wat vêr weg was, deur sy genade, weer naby gebring het.
As mens die twee gedeeltes langs mekaar lees sien mens duidelik dieselfde bewegings in altwee:
1. Ons verlore toestand vóór Christus ons verlos het (dood/vervreemd)
2. Wat daardie toestand veroorsaak het (magte/vlees/wette/vyandskap)
3. Hoe God ingegryp het om ons te red (in Christus lewend gemaak/naby gebring)
4. Wat Christus se verlossing tot gevolg gehad het (Nuwe skepsel!)
Net soos die groter struktuur van hoofstuk 1-3 doelbewus uitgewerk is om ons by ‘n middelpunt uit te bring, so ook het Paulus vers 11-22 meesterlik aanmekaar geweef. Ons kan dit soos volg voorstel:

A: Ons was eers buitestaanders “in die vlees” (sondige aard), maar is nou deel van God se tempel/woonplek, nie meer in die vlees nie, maar “in die Here”/”deur die Gees”
B: Ons was vreemdelinge en bywoners, sonder God, maar nou medeburgers, lede van die huisgesin van God.
C: Ons was eers vêr van God af, maar is nou naby gebring deur die bloed van Christus.
D: Die twee (Jode en Nie-Jode) wat van mekaar af geskei was is nou een nuwe mensheid in een Messias.
Ons wat nie welkom was by God se woonplek nie, is nou die woonplek van God!
Dit alles gebeur deur genade, sê vers 8 – dit is ‘n gawe, ‘n geskenk van God. Hierdie geskenk word nie gegee wanneer ons aan sekere voorwaardes voldoen, of goed genoeg is om dit te verdien nie, maar eerder omdat God goed is en ons lief het. Hy wil met ons in verhouding leef en Hy neem die inisiatief in daardie verhouding. Hy het ons eerste liefgehad. Ons reageer op sy geskenk met dankbaarheid, met liefde teenoor Hom. Hoe kan ons dan anders! Ons het die voorreg om met die Here van die heelal in verhouding te lewe en het daarom die voorreg om die goeie dinge te doen wat sy Naam groot maak. Die goeie werke waarvoor Hy ons geskep het (v. 10).
In 1 Korintiërs 15:10 sê Paulus: “Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is.”
Dan besef ons dat sy genade nie net ons vrygemaak het en dan klaar is met ons nie. Sy genade gaan saam met ons. Die krag van genade dryf ons aan, inspireer ons en motiveer ons. Dit word die krag waaruit ons lewe, die bril waardeur ons kyk, die bepalende faktor in ons optrede.