5. Liefdesverhouding
- 2 days ago
- 3 min read
Efesiërs 3:1-21
Paulus begin in vers 1 met sy gebed (wat hy dan in vers 14 voortsit), maar onderbreek homself om iets oor sy gevangenisskap te sê en hoe dit eintlik juis ‘n getuienis is van God se genade en die oorwinning van die Messias.
Die oop-geheim van God kom nou aan die lig: “deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.” (v. 6) Jesus is die Messias, die Een deur wie al die nasies geseën word!
Paulus meen dat hy die geringste is, die laaste een wat hierdie opdrag moes kry om hierdie Boodskap te verkondig. Maar dat God se genade juis daardeur groter is omdat Hy hom gekies het om te vertel van die “onpeilbare rykdom van Christus” (v. 8).
Deur “aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer” (v. 9) “het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim” (v. 10).
Deur die nuwe skepping/nuwe mensheid wat God skep, deur sy Kerk, word die magte en kragte in die wêreld uitgedaag en omvergewerp. Die magte en kragte wat probeer om onmin, vyandskap, verdeeldheid en selfsug te bevorder verloor hulle mag wanneer Paulus die gevangene getuig van die Liefde van die gekruisigde Jesus en daardie liefde sigbaar word in die eenheid van die globale Kerk.
Vers 14-21 dien as ‘n opsomming van die res van hoofstuk 1-3. Amper elke frase in 3:14-21 lig ‘n beeld of ‘n tema van die voorafgaande hoofstukke uit:
Die “elke geslag in die hemel en op aarde” van vers 15 wys terug na 1:10-11, 20-21 en 2:6. Ons Skepper is die Bron van alles en die Een wat regeer oor hemel en aarde.
Vers 16 se “rykdom van sy heerlikheid” sien ons ook in 1:7, 18, 2:7 en 3:8. Sy liefde en genade is oneindig!
Om “om deur sy Gees met krag” versterk te word in vers 16 lees ons ook in 1:17, 2:18, 22. Die Gees woon in sy Kerk – in die gemeenskaplike lewe van die Kerk en gee krag aan God se liggaam
Vers 17 sê dat “Christus deur die geloof in julle harte mag woon”. Ons lees van hierdie woonplek van God ook in 2:19-22. Ons is “saam opgebou... as ‘n geestelike huis waarin God woon.” (2:22)
Die “in die liefde gewortel en gegrond” (v. 17) sien ons ook in 1:4-5 en 2:20-21. God se liefde is die fondasie waarop alles gebou is en daarin kan ons groei.
Om God se onpeilbare liefde te ken (v. 18-19) sien ons ook in 1:18. Dit is juis in die ontdekking van ons roeping as Kerk, ons identiteit as Nuwe Skepping van God dat ons sy oneindige liefde, die heerlike rykdom van sy erfenis leer ken.
Vers 19 sê dat ons “gevul mag word met al die volheid van God” en dit wys natuurlik ook terug na 1:23 se “die volheid van Hom wat alles in almal vul.” Die Kerk (die mense!) is die nuwe Tempel, nuwe woonplek van God wat gevul word met sy heerlikheid, en dit sigbaar maak in die wêreld.
Gaan lees gerus al hierdie kruisverwysings op jou eie tyd deur – dit is verrykend!
God se Liefde is onmeetbaar en onkeerbaar. Daarvan is ons as Kerk nie net getuies nie, maar ook instrumente. Dink maar aan hoe ver en hoe wyd die Boodskap van Christus reeds versprei het. Oor grense van politiek, taal en kultuur het dit wêreldwyd lewens verander. En so moet die magte van die wêreld wat verdeeldheid saai maar verward en verstar toekyk hoe hulle sg. mag en krag niks beteken nie, en niks kan doen teen die eenheid en liefde in God se Kerk nie. Mag ons ook daarvan deel wees!
Jesus se woorde in Johannes 16:33 gee vir ons nuwe hoop: “Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin.”