top of page

6. Verhouding van EENheid

  • 5 days ago
  • 3 min read

Efesiërs 4:1-16

Ons begin dan nou met die tweede hoofdeel van die brief (hoofstuk 4-6) waar Paulus vir sy lesers uitlê hoe gelowiges op die apokalips (die openbaring in Christus se lewe, dood en opstanding) moet reageer. Hoe dit in al die fasette van ons lewens ‘n invloed behoort te hê – in elke tipe verhouding moet sigbaar word.


In 4:1-16 kry ons as oorgang van die vorige gedeelte, en inleiding tot die volgende gedeelte, ‘n opsomming van die funksionering van die Kerk. Nadat Paulus beskryf het hoedat God verskillende mense, Jode én Nie-Jode, uitgekies het, geroep het, bestem het, geskep het as een nuwe mensheid, een nuwe tempel, een nuwe woonplek van God, in Christus, val die klem dan nou juis op wat hierdie nuwe eenheid dan in die praktyk beteken.


Hy sê in vers 2 dat die gelowiges hulle moet beywer vir die eenheid van die Kerk deur “mekaar met volkome nederigheid en saggeaardheid, en met geduld in liefde te verdra”. Hierdie is almal eienskappe wat slegs in verhoudings, waar mense met mekaar paaie kruis, sigbaar kan word. Dit is juis hierdie verskillende verhoudings wat hy hierna in die res van die brief gaan behandel.


Daar waar mense met mekaar te doen het, kan dinge maklik “messy” raak. Vyandskap, verdeeldheid, haat en nyd, is goed wat natuurlik uitbroei tussen mense. Die Kerk bestaan nie in isolasie nie, en moet juis die lig in die donker skyn – ook dáár waar dit “messy” raak. Hierdie teks daag enige idee dat ek die kerk alleen op my eie kan wees uit. ONS is SAAM die Kerk van die Here. Daarom moet ons SAAM Kerk WEES. Deur ons EENheid SAAM word die magte van die duisternis oorwin en Christus se oorwinning sigbaar verkondig.


In vers 4-6 kry ons 7 “een’s”. Verseker is daar met opset 7 van hulle. In Paulus se Joodse agtergrond is die getal sewe die simbool vir volheid/volmaaktheid. Die Hebreeuse woorde vir “sewe” en vir “volheid” lyk selfs, sonder vokale, grafies presies dieselfde. Vers 4-6 hier roep ook terug na die Shema van Deut 6:4 – “Luister, Israel, die Here is ons God, die Here alleen.” Paulus gee hier vir ons ‘n Messiaanse Shema gebaseer op die openbaring van Christus. Die Drie-Enige God wat sigbaar word deur sy Kerk.


Maar in hierdie Een kerk is daar ook diversiteit. Eenheid is nie noodwendig dieselfde as eenvormigheid nie. Want aan ELKEEN word ‘n genadegawe gegee. In hierdie geval praat Paulus van verskillende rolle wat mense in die Kerk speel. Apostels, profete, evangeliste, herders en leraars. Die Here gee gelowiges as gawes, as dienswerkers in sy kerk. Jy IS ‘n gawe aan die gemeente. Geroep om ‘n unieke rol te speel as deel van die liggaam van Christus.


Hy doen dit “om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, om die liggaam van Christus op te bou, totdat ons almal kom tot eenheid in geloof en in kennis van die Seun van God, en tot ‘n volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus.” (Ef 4:12-13)


Die tempel/woonplek van God/heiliges word opgebou sodat hulle die werke (Ef 2:10) van diens kan doen. So kan die Messias se mense, die nuwe skepsels/nuwe mensheid Hom beliggaam. Word die volheid van Christus vergestalt in die wêreld. Een mens kan dit nie alleen ten volle regkry nie, maar ‘n verenigde Kerk kan dit doen.


Dink aan die woorde van Ef 2:21-22 – “In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot ‘n heilige tempel in die Here. In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees.”


Dieselfde gedagte kry ons hier in 4:15-16 wat sê:

“maar dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Hom toe sal groei. Hy, Christus, is die Hoof uit wie die hele liggaam, harmonieus saamgevoeg en saamgebind, deur die ondersteuning van elke gewrig, volgens die werking van elke deel afsonderlik, die groei van die liggaam bewerk tot sy eie opbou in liefde.”


Jesus is die bron, die oorsprong waaruit die liggaam groei. Die kop waarvan die Kerk die liggaam is. As ons in liefde aan die waarheid vashou kan ons groei tot die volle potensiaal wat Hy vir ons bedoel het. Tot eer van sy Naam en tot opbou van sy Koninkryk. Is ons bereid om te groei…? Nie net as individue in ons eie geloof nie, maar ook SAAM, as gemeente, as Kerk – nader aan God se doel vir ons…?

 
 
bottom of page