7. Splinternuwe Verhouding
- Jun 2
- 3 min read
Efesiërs 4:17-5:2
Regdeur die eerste 3 hoofstukke was dit baie duidelik vir wie Paulus skryf: die brief is bedoel vir heidene. Nie ongelowiges nie, maar nie-Jode, “gentiles” wat uit ander gelowe tot geloof in die Here gekom het. Maar dan in 4:17 sê Paulus: “Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks”. Hulle is dan heidene, hoe kan hulle nie meer soos heidene lewe nie. Maar dis juis die punt wat Paulus op briljante wyse maak: hulle is NIE MEER heidene nie, hulle is nou nuwe skepsels. Hulle identiteit het verander! Paulus wil hulle help om te word soos wie hulle werklik reeds is.
Hy het dit eintlik reeds op verskeie maniere gesê. Soos in 2:4-5 waar hy sê dat ons was dood, maar nou lewe: “Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos!”
Hulle was dalk vroeër heidene, maar omdat hulle die waarheid in Christus leer ken het is hulle nou nuwe mense. Let op hoe Paulus daardie waarheid beskryf in vers 20-21: CHRISTUS leer ken, oor HOM onderrig, die waarheid wat IN JESUS is. Dit is soveel meer as leerstellings, teorieë of ‘n morele stel reëls. Dit is om die persoon van Jesus Christus te ken. Die inhoud van die boodskap van Christenskap, die waarheid, is Jesus self, en dit word ontdek deur Hom te leer ken en te volg.
Dan beskryf Paulus hoe hierdie waarheid ons lewens behoort te verander – dat ons die ou mens (mensdom) moet aflê, ons denke (deur God) laat vernuwe, en die nuwe mens as kleed aantrek. Dit is soos om ‘n ou uniform, wat jou as iets spesifieks identifiseer het, uit te trek, en dan die nuwe uniform (kleed) van die nuwe lewe aan te trek, wat jou nuwe identiteit wys. Hierdie is ‘n aanhoudende proses waarvoor ons aanhoudend moet kies. Elke dag kies om die ou manier van lewe af te lê, ons denke te vernuwe, en te strewe om te lewe soos nuwe mense.
Hy gaan dan verder om te wys hoe dit in die praktyk sou lyk:

Ons fokus, as gelowiges, is baie keer eerder op die linkerkantste kolom. Ons probeer so hard om nie daai goeters te doen nie, en spandeer baie energie om uit te werk wat mens alles nie mag doen nie. Dan bly ons gevangenes van sonde en beleef nooit die vryheid van om soos nuwe mense te lewe nie. Paulus se bedoeling is juis dat ons fokus nie op die ou lewe en sy dinge moet wees nie, maar eerder moet besig wees met die nuwe lewe. Dit maak ‘n massiewe verskil om daarop te fokus en daarna te strewe om altyd die waarheid te praat, teenoor die spanning van om te probeer fokus om nie te jok nie.
Aan die begin van hoofstuk 5 (v. 1-2) gee Paulus dan die sleutel om bg. te kan reg kry: “Volg dan die voorbeeld van God”. Hoe lyk daardie voorbeeld? Leef in liefde. Hoe lyk daardie liefde? Net soos Christus ons liefgehad het. Hoe het Hy ons liefgehad? Hy het Homself ter wille van ons oorgegee as ‘n offergawe aan God. God se selfopofferende liefde is die voorbeeld wat ons moet volg, en die sleutel tot die nuwe lewe. Om God se voorbeeld te volg IS om voorbeeld van die liefde van die Messias te volg.