8. LIGte Verhoudings
- Jun 8
- 2 min read
Efesiërs 5:3-14
Hierdie teks is weer een van daai wat wys hoe belangrik dit is om die konteks van die res van die brief in gedagte te hou wanneer ons dit lees. As ons dit buite konteks lees loop ons die gevaar om dit bloot moralisties te sien, en wat Paulus sê oor identiteit en dit wat GOD alreeds vir ons gedoen het, mis te kyk.
Onthou hy is besig om vir sy lesers te vertel dat hulle moet word wat hulle REEDS in Christus IS. Hulle is nie meer wat hulle was nie. Hulle is nie meer heidene nie, hulle is iets heeltemal nuuts – hulle is nou die uitgeroepte Kerk van God. Hulle is nie meer dood nie, nie meer ver van God af nie, nie meer vreemdelinge nie. God het hulle in Christus lewend gemaak, nader gebring, deel van sy huisgesin gemaak.
Omdat hulle nie meer is wat hulle was nie moet hulle die ou self aflê en hulle denke laat vernuwe en die nuwe mens aantrek. Lewe soos nuwe mense! (4:22-24)
Dit is op dieselfde trant wat Paulus hier voortgaan. Nou gebruik hy die beelde van lig en donker om sy punt verder te maak.
Die praktyke van die duisternis pas nie meer by hulle lewe nie, want hulle is nou lig. Daarom sê Paulus in vers 3-5 dat onsedelikheid/ontug/gierigheid onvanpas is, en daarvan mag daar geen sprake by hulle wees nie. Hy sê ook dat sulke mense (hoereerders, onreines, gierigaards) nie ‘n erfdeel aan God se Koninkryk het nie. Dit is nie meer wie hulle is nie – hulle het reeds erfgename van God geword (1:13-14). “Moet dus nie deel van hulle wees nie. Want vroeër was julle wel duisternis, maar nou, in die Here, is julle lig. Leef as kinders van die lig!” (5:7-8)
Dit help nie ons hou onsself besig met die dinge van die duisternis nie. Dit is vrugteloos. Nee ons moet eerder besig wees om die vrug van die lig na te jaag – goedheid en geregtigheid en waarheid (v. 9) en te soek na dit wat vir die Here aanneemlik is (v. 10). Hoor jy die verskil? In plaas van om onsself besig te hou met wat sonde is en wat nie, is ons eerder besig met dit wat goed is.
Die lig is nie net die teenoorgestelde van die duisternis nie. Dit ontmasker die duisternis sodat ons dit kan sien vir wat dit werklik is. Dan kan die vyand ons nie meer verlei met die dinge van die duisternis nie, want hy kan dit nie meer versteek as iets wat vir ons goed is nie. Om in die lig te lewe is om so te lewe dat jy niks hoef weg te steek nie. En daar sit groot vryheid en vrede daarin om so te lewe!
Die lied in vers 14 herinner ons waar hierdie lig vandaan kom. Dit is nie ons lig nie, dit kom nie uit ons eie krag nie. Dit is Jesus wat ons opwek uit die dood en sy Lig oor ons skyn. Dit is Hy wat ons gemaak het wat ons nou is. In Hom IS ons lig. Dit is alles net genade. Daarom kan ons in die lig lewe met danksegging (v. 4).