9. Verstandige Verhoudings
- 1 day ago
- 3 min read
Efesiërs 5:15-6:9
In vers 15-18 gee Paulus vir ons 3 kontraste waarmee hy die verskil tussen die ou en nuwe lewe verder verduidelik:
Onwys vs. Wysheid – Wysheid hier gaan oor om my eie onvermoë as mens te erken en my lewe onder die heerskappy en leiding van Iemand Groter as myself te stel.
Dwaas vs. Onderskeiding – Om dwaas te wees is om nie in staat te wees daartoe om te kan onderskei hoe ‘n mens moet lewe of wat die doel van my bestaan is nie. Onderskeiding van God se wil daarteenoor is om te soek na wat vir God aanneemlik is omdat my lewe deur sy liefde en wysheid gevorm word.
Dronkenskap vs. Vervul deur die Gees – Die bedoeling is nie dat mens nou moet “dronk word met die Gees” nie. Dit gaan hier oor eksterne invloede. Die eksterne invloed van drank vertroebel jou vermoë om wyse keuses te maak en volgens God se wil te lewe. Die invloed van die Gees vervul ons egter met die volheid van God.
Die manier hoe Paulus tot dusver in die brief gepraat het van vervulling help ons om te verstaan waarmee die Gees ons dan hier vervul. Dit gaan oor die volheid van God, die volledige inwoning van God, ons word al meer gevorm om sy beeld te vertoon:
1:23 – “die kerk wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vul.”
2:21-22 – “In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot ‘n heilige tempel in die Here. In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees.”
3:16-17,19 – “…om deur sy Gees met krag na die innerlike mens versterk te word, sodat Christus deur die geloof in julle harte mag woon… ja, om die liefde van Christus te leer ken, wat alle begrip te bowe gaan, sodat julle gevul mag word met al die volheid van God.”
4:13 – “totdat ons almal kom tot eenheid in geloof en in kennis van die Seun van God, en tot ‘n volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus.”
Die Gees wat in sy Kerk – sy nuwe tempel, nuwe woonplek – kom woon het natuurlik ook ‘n invloed op die manier waarop hierdie geloofsgemeenskap saam aanbid. En op die liturgie van die “nuwe tempel”:
“Praat met mekaar” met psalms – om toe te laat dat die wysheid en waarheid van Bybelse poësie die manier hoe ons praat en dink beïnvloed en vorm
Van harte tot die Here sing – Liedere bind die geloofsgemeenskap saam en bring ons nader aan mekaar en aan Jesus. Dit vorm ons harte en gee inhoud aan ons geloof.
Dank God oor alles – om met mekaar ons belewenisse van God se liefde en teenwoordigheid te deel en saam daardeur versterk kan word en ons fokus nog meer op God ingestel kan word.
Onderdanig aan mekaar – Uit eerbied vir Christus wat ons Here is en Homself vir ons gegee het, onsself aan mekaar gee in liefde en diensbaarheid
Dit is baie belangrik om die “aan mekaar” van 5:21 raak te lees. Die onderdanigheid gebeur uit eerbied vir Christus en moet in verhoudings van altwee kante af kom. Huweliksmaats moet hulleself vir mekaar gee, vir mekaar lewe, mekaar gelukkig maak, mekaar se belange eerste stel.
Die volgende sleutel is die voorbeeld van Christus. Oor en oor sê Paulus “soos Christus”. Soos wat die Here Homself vir sy Kerk oorgegee het, so moet die mans ook hulleself vir hulle vrouens gee. Reeds in 4:15 het ons gesien dat wanneer Paulus van Jesus as die hoof van die liggaam praat dan gebruik hy ‘n woord wat “oorsprong” of “bron” beteken. Hier gebruik hy dieselfde woord as hy van die mans as hoof van die vrou praat. Net soos wat die Here die vrou vanuit die man gemaak het (Gen 2:21-23), juis so is die man ook die bron van die vrou wat vir haar moet sorg soos wat Christus sy kerk versorg.
Verstandige verhoudings word gebou op wyse en verstandige keuses onder die leiding van die vervulling van die Heilige Gees. Wanneer ons dan Jesus se selfopofferende voorbeeld volg en onsself vir mekaar gee, dan gebeur die wonderwerk van die huwelik soos wat God dit bedoel het.