top of page

2. Verhoudings "in Christus"

  • Apr 21
  • 2 min read

Efesiërs 1:3-14

Voordat ons in detail kyk na die volgende klompie verse, is dit goed om te weet waar hierdie verse in die struktuur van die brief inpas.  Onthou dat die brief in twee dele opgedeel word.  In hoofstuk 1-3 word die openbaring van Jesus uitgelê, en in hoofstuk 4-6 word verduidelik hoe gelowiges op hierdie openbaring behoort reageer.


As ons dan na hoofstuk 1-3 bietjie nader beskou dan sien ons hoe briljant Paulus dit aan mekaar sit om sy boodskap tuis te bring.  Hier is die basiese struktuur:


  • A 1:1-14 – Lofprysing

    • B 1:15-23 – Gebed

      • C 2:1-10 – God se verlossingsplan: Gered van die dood

      • C 2:11-18 – God se verlossingsplan: Christus bring vrede

        • D 2:19-22 – Die nuwe Tempel

      • C 3:1-13 – God se verlossingsplan: Omgekeerde Koninkryk

    • B 3:14-19 – Gebed

  • A 3:20-21 – Lofprysing



Hierdie konstruksie is nie sommer net vir die mooigeid nie.  Dit is intensioneel om die leser te help om die punt beter te verstaan.  Die ooreenkomstige gedeeltes moet vergelyk word en verskille en ooreenkomste uitgewys word.  So word die middelpunt en hoogtepunt van die gedeelte beklemtoon: Die gelowiges is die nuwe tempel – die woonplek van God.  In ons studie van hierdie hoofstukke gaan hierdie struktuur ons help om die diepte daarvan te ontdek.


Efesiërs 1:3-14 is een lang sin in die Grieks.  Dit maak dit moeilik om die vloei wat Paulus daarin bedoel het in Afrikaanse sinskonstruksie te kan sien, maar hy ryg een gedagte aan die volgende gedagte om dit aanmekaar te bind.  Hy gaan ‘n paar keer om dieselfde sirkel om te sê Wie die bron van die seën is, wat die seën is, en wat ons met daardie seën moet maak.


In vers 3 stel hy reeds die Drie-Eenheid, die Bron van die seën, voor: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.”  God is die aktiewe subjek en Hy seën ons op verskillende maniere.


Hy het ons:

  • uitverkies (1:4)

  • aangeneem (1:5)

  • begenadig (1:6)

  • verlos (1:7a)

  • vergewe (1:7b)

  • die geheimenis van sy Wil bekend gemaak (1:9)

  • erfgename gemaak (1:11-12)

  • beseël deur die Gees (1:13-14)


Paulus gebruik ‘n refrein om die sin in drie dele op te deel en help ons daarmee om te sien hoe die Drie-Enige God by ons betrokke is.  Vers 6, 12 en 14 sê al drie dieselfde ding: DAAROM moet ons God prys!  God seën ons met alles.  Hy doen alles wat nodig is.  Sy plan is volmaak, volledig, en volbring.  Ons is totaal en al, geheel en al, bedek onder sy liefde, genade en verlossing.  Ons verlede, hede en toekoms is toegevou in God se hande. Ons eindbestemming en erfenis vas en seker. Daarom moet ons sy grootheid prys!

 
 
bottom of page