top of page

1. Vir verhoudings uitgeroep

  • Apr 21
  • 3 min read

Efesiërs 1:1-2

Paulus se brief aan die Efesiërs verskil van sy ander briewe in die sin dat dit nie groete boodskappe aan spesifieke persone stuur nie, en ook nie ‘n spesifieke saak in ‘n spesifieke gemeente wil aanspreek nie.  Dit was eerder ‘n soort omsendbrief wat aan die gemeentes in Klein-Asië gestuur is en langs die handelsweë vanaf Efese verder aan gemeentes gebring is.   Paulus se persoonlike briewe aan Timoteus dien eerder as die briewe aan die gemeente in Efese.


Die woorde “in Efese” wat in vers 1 staan kom in van die oudste manuskripte nie voor nie, en kon maklik met enige gemeente se naam vervang word.  So sien ons ‘n poging om die waarheid van die evangelie so wyd as moontlik te versprei en om gemeentes te help om beter te verstaan hoe om daarop te reageer en dit in hul lewens toe te pas.


Efesiërs 1:1 klink in die 2020 vertaling so:

“Paulus, ‘n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, aan die heiliges wat in Efese is, die gelowiges in Christus Jesus”


Paulus identifiseer homself as ‘n apostel – ‘n afgevaardigde, gestuurde, verteenwoordiger.  Hy is gestuur deur niemand anders nie as Koning Jesus.  D.w.s. God se Gesalfde Koning, Messias, die Christus.  God self het hom geroep en gestuur met ‘n opdrag om die evangelie aan die heidennasies te verkondig. In Paulus se roepingsverhaal in Handelinge 9 lees ons in vers 15: “Ek het hom gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel.” 


Vir Paulus is daar geen groter gebeurtenis in die geskiedenis as die kruisiging en opstanding van Jesus nie.  Dit is hoe God sy wil, sy plan, kom openbaar het.  Paulus getuig self daarvan, van dit wat hy self beleef het toe die Here Homself aan hom geopenbaar het daar in Handelinge 9.  Dit is van hierdie lewensveranderende openbaring wat hy skryf.


Ons staan nou hier aan die heel begin van ons reis deur hierdie brief en eintlik wil ons nou al alles op een slag inneem, maar daar is nog so baie om te ontdek.  Maar hier aan die begin kan ons opgewonde wees oor waarvoor ons onsself inlaat in die volgende 6 hoofstukke en solank uitsien na wat oppad is.


Paulus spandeer die eerste 3 hoofstukke daaraan om God se openbaring uit te lê sodat sy lesers dit kan begryp en verstaan. God wat kies om met ons in verhouding te kom tree. In Efesiërs 3:3-4 verduidelik hy waarmee hy besig is: “Hy het sy geheimenis deur ‘n openbaring aan my bekend gemaak, soos ek dit hierbo kortliks beskrywe het, en as julle dit lees, sal julle ‘n begrip kry van my insig in die geheimenis van Christus.”


Daarna, in hoofstuk 4-6 verduidelik hy dan hoe om op hierdie openbaring te reageer.  Ons was dood, maar nou lewe ons.  Ons was in die duisternis, maar nou is ons in die Lig.  Alles het nuut geword.  Jesus het alles kom nuut maak.  Hoe leef mens hierdie nuwe lewe waar ALLES onder die heerskappy van Jesus verenig is?  Hoe dit elke verhouding waarin ons lewe beïnvloed. Dit is waarmee hy ons help in die tweede helfte van die brief.


Ons gaan ook ontdek dat die Kerk van die Here nie net die plek is nie, maar ook die manier is hoe hierdie nuwe bedeling in die wêreld beweeg en sigbaar word.


Hy spreek die mense vir wie hy skryf as heiliges aan.  Nie omdat hy oordeel dat hulle sonder foute is nie.  Maar omdat hy weet wat Jesus gedoen het in Wie hulle glo.  Hy weet wat hulle eindbestemming is. Hulle “destiny” is vas in dit wat Jesus reeds gedoen het.


Hoofstuk 2 vers 5-7 sê dit mooi:

“Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.”

 
 
bottom of page