3. Kragtige Verhouding
- Apr 28
- 3 min read
Efesiërs 1:15-23
Ná die lang sin in vers 3-14, skryf Paulus nog so ‘n lang sin in vers 15-23. Hierdie keer nie ‘n lofsang nie, maar ‘n gebed (kyk weer na die struktuur van hoofstuk 1-3). Dit is opvallend waarvoor Paulus hier bid. Hy bid nie dat die Here die mense se omstandighede sal verander, hulle uit nood uit red, hulle sal gesond maak of ryk maak nie. Hy dank die Here vir hulle liefde en geloof en vra dat God Homself al meer aan hulle sal openbaar.
Hy bid dat hulle Goddelike wysheid en “openbaring” (weereens “apokalips”) sal ontvang – dat hulle die hemelse werklikheid reeds op aarde kan sien. Hy bid dat hulle in hulle diepste binneste kan besef (“dat die oë van hulle hart verlig mag wees”) en kan insien waarmee die Here hulle geseën het. Hy noem dan drie dinge:
1. Wat die hoop is wat sy roeping bied. Soos ons gesien het met Paulus se gebruik van die woord “heiliges”, is daar ‘n toekomstige werklikheid wat reeds vas is – ons eindbestemming is reeds bepaal, omdat Jesus dit vir ons bewerk het. Daarom hoef ons nie teen ons huidige omstandighede vas te kyk en dink dat dit ons lewens of ons identiteit bepaal nie, maar kan ons weet dat dit bepaal word deur die dood en opstanding van Jesus en dat ons juis daarom kan hoop. Ons is uitverkies, geroep, bestem daarvoor!
2. Wat die heerlike rykdom van sy erfenis is. Die idee van hierdie roeping en erfenis kom uit die Ou Testament uit. God wat sy volk uitkies sodat al die nasies deur hulle geseën kan word (Gen 12:2-3). In Christus word ons ook deel van God se uitverkore volk, God se persoonlike, beminde eiendom. Ons behoort aan God! Ons is syne. Deuteronomium 7:6 sê: “want jy is ‘n heilige volk vir die Here jou God. Vir jou het die Here jou God gekies uit al die volke op aarde om as volk sy persoonlike eiendom te wees.” Efesiers 1:13 bevestig dit: “In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël.”
3. Wat die onvergelykbare grootheid van sy mag is. Hierdie mag is nie die tipe mag wat ons mense so graag wil besit nie – om te kan doen, wat jy wil, wanneer jy wil, aan wie jy wil. Hy kwalifiseer dadelik hierdie mag as die opstandingskrag van Jesus. Ons kan weet dat, omdat Jesus die dood oorwin het, ons ook daarvan vry is, kan ons die ewige lewe hê. Die krag van God, die werklikheid van die ewigheid breek deur in ons aardse werklikheid in Jesus se opstanding uit die dood. Dit beteken dat die dood nie die finale woord het nie, nie net in fisiese dood nie, maar ook in mense se omstandighede, verhoudings en optrede. God se krag, wat die mag het om mense wat in sonde “dood” is te transformeer in mense wat lewe, is tot die beskikking van sy Kerk.
Hy gaan ook verder om die krag van God te beskryf dat dit aan die werk was in Jesus bekroning en troonbestyging as Koning (v. 20-22). Hy leen weer beelde uit die Ou Testament. Psalm 110:1-2 së: “Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande ‘n voetbank vir jou voete maak. Uit Sion stuur die Here jou magtige septer: ‘Heers te midde van jou vyande!’ “ (vgl. ook Daniël 7:13-14) Jesus regeer bo alles en almal, bo alle magte en kragte. Nou en vir altyd. Daar is dinge wat ons reeds kan sien, maar ook dinge wat nog moet realiseer. Paulus sê dat Jesus in die “reeds” en in die “nog nie” Koning is – in hierdie bedeling, en in die bedeling wat kom.
Intussen, tot dan, is die Kerk die plek waar Jesus se Koningskap sigbaar behoort te word. In ‘n stukkende wêreld het die Here die Kerk gekies om te wys hoe die hemelse werklikheid (Jesus wat regeer) reeds nou kan lyk. Hy roep ons om sy Liggaam te wees. Om Hom te beliggaam in hierdie wêreld. Ons kan dit net doen as ons besef dat dit is wie ons is, en Wie in ons is. En dat die krag om dit te kan doen net van Hom af kom. Om ‘n lewe te leef wat nie bepaal word deur my eie begeertes nie, maar bepaal deur Wie my Koning is. Dat ons juis, deur die krag van Jesus, anders as die wêreld leef, nie omdat ons skynheilig is nie, maar omdat ons verklaar: “Hier doen ons dinge anders, want hier is Jesus Koning.”